Sprokie Vir 'n Stadskind


As die reën van stof en roet verby is
En die rook verdwyn
Sal daar in die sterrelose hemel
'n Reënboog verskyn

En kyk maar goed
Want as jy hom vind
Vertel ek vir jou
'n Sprokie, my kind
Van 'n skatkis met
Ou kettings gebind
Aan die reënboog se punt

Volg hom elke nag oor swart riviere
Oor kranse van beton
As jy aanhou stap tien duisend ure
Sal jy dalk daar kom

Maar hier moet jy
Jou nimmer laat bind
Want so lui die ou
Ou sprokie my kind

As jy geluk
En vrede wil vind
Soek die reënboog se punt

Volg hom elke nag oor swart riviere
Kyk nie eenmaal om
Dalk vind jy die land van blou saffiere
En dalk 'n brokkie son


Writer/s: KOOS DU PLESSIS